Voortbeweging

Voortbeweging, in etologie, is een van 'n verskeidenheid metodes wat diere gebruik om van een plek na 'n ander te beweeg.[1]

Die vermoë om te beweeg, is een van die fundamentele eienskappe van lewende selle. Beweging kan binne dier- en plantselle waargeneem word as die verplasing van selorganelle en sitoplasma. Aktiewe voortbeweging is kenmerkend vir die meeste diere, hoewel dit ook in slymswamme, bakterieë en diatome voorkom.

Bepaalde voortplantingstadia van baie plante het ook geslagselle wat aktief beweeg. Bewegingsverskynsels kan by landplante voorkom, maar die plant kan nie self van een plek na 'n ander beweeg nie. Voortbeweging kan op 3 basiese wyses geskied. Die eerste is amoeboïede beweging, waar pseudopodia (skynpote) gevorm word wat van sitoplasmiese strominge afhanklik is. Voortbeweging kan ook deur middel van sweephare (flagella) of trilhare (cilia) geskied, hoewel spiersametrekking die algemeenste metode in die diereryk is.

Die eerste 2 metodes van voortbeweging word by hoofsaaklik minder gedifferensieerde, meestal eensellige plante en diere, aangetref. Die strukture word by meersellige organismes in hul liggame gebruik, byvoorbeeld by spermselle, wit bloedliggaampies, trilhaarepiteel, ensovoorts. Aktiewe voortbeweging met spierseile of spiere word in slegs die diereryk aangetref. Spiere is nooit direk met die omgewing in verbinding nie (soos sweephare of trilhare) en hulle moet met 'n ondersteunende struktuur saamwerk.

Spierwerking is 'n effektiewe manier om beweging te bewerkstellig en diere kan verskillende metodes van beweging ontwikkel: die hoofmaniere is swem in water, vlieg in lug en loop op land. Terwyl diere swem, word 'n krag deur die werking van die liggaamspiere en die stert op die water uitgeoefen. Die liggame van lopende diere word deur pote van die grand gelig, terwyl veral die agterpote die voortdrywingskrag verskaf. Kruipende diere kan egter nie hul liggame van die grond af lig nie. Vlieënde diere se voorste ledemate is tot vlerke gemodifiseer, waardeur hulle swaartekrag en lugweerstand kan oorkom.

  1. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named EB

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search